NWK vier 110de bestaansjaar

Posted in Latest News

Agri-Pulse - Noordwes - Lichtenburg - Op 4 Mei 2019 het NWK sy 110de bestaansjaar gevier. Hierdie is nie net ‘n werklik merkwaardige prestasie siende dat meeste ondernemings se bestaanstydperk net sowat 25 jaar lank is nie, maar NWK is ook die oudste koöperasie in die land.

Hiermee ‘n terugblik op die instansie se ryk geskiedenis.
Op 24 April 1909 is ‘n vergadering in die Stadzhuishaal op Lichtenburg belê met die stigting van ‘n landboukoöperasie op die agenda. Die 112 mense wat die presensielys geteken het, word vandag as die stigterslede beskou. Generaal JH de la Rey het sy naam heel eerste op die lys geskryf.
Sowat tien dae later is die koöperasie amptelik as Die Lichtenburg Coöperatiewe Landbouw Maatschappij geregistreer en het begin sake doen met slegs die sekretaris, wat op daardie stadium DF Naude was, en ‘n stoorman. Die eerste kantoor was ‘n sinkgeboutjie wat aan EH Matthews, voorsitter van die direksie behoort het. In 1912 word die eerste graanontvangstedepots op Klerksdorp, Vermaas, Barberspan, Oppaslaagte, Gerdau en Bodenstein opgerig.
In 1938 word Noordwes Koöperasie as beperkte koöperasie gestig en die volgende jaar geregistreer.  Teen die einde van 1950 het die graanpersoneel reeds 18-miljoen, 200-duisend sakke graan hanteer en in 1953 word die eerste skuur vir massahantering van mielies op Lichtenburg gebou.
Met die sesde dekade op hande het Noordwes Koöperasie se interne herorganisasie begin vrugte afwerp. Die onderneming was reeds so gevestig dat die koöperasie sy belange kon begin uitbrei. In die 1967/68 boekjaar spog hulle met ‘n omset van R71,7-miljoen.
Hoewel die sewentigerjare gekenmerk is deur moeilike ekonomiese en landboutoestande, het Noordwes Koöperasie steeds positiewe resultate gelewer en voortgegaan om uitbreidings te doen. Ondermeer om ‘n leiersposisie in terme van die losmaatopberging van grondbone te beklee. Die tagtigerjare sal veral onthou word vir die vloede van 1981, gevolg deur drie jaar van strawwe droogtes. Maar, die Noordwes Koöperasie het ten spyte van die swak klimaatstoestande in 1984 op ‘n verdeelbare surplus van R7-miljoen, 507-duisend geëindig – ‘n styging van 3,2% teenoor die vorige jaar.
Die negentigerjare het vir Suid-Afrika in die geheel groot veranderinge ingehou en ook ‘n uitwerking op die landboubedryf gehad. Die grootste hiervan was die oorskakeling van ‘n gereguleerde graanmarkstelsel na ‘n vryemarkstelsal, wat beteken het dat produsente hul boerderypraktyke moes herorganiseer.
Om die nuwe uitdagings in landbou die hoof te bied, is Noordwes Koöperasie Beperk in 1998 na ‘n openbare maatskappy - NWK Beperk omskep.
NWK Beperk
Die laaste dekade voor NWK se 100-jarige bestaan is gekenmerk deur tegnologiese vooruitgang en verdere waardetoevoeging-inisiatiewe om dienslewering aan klante te verbeter en aandeelhouers se belegging in die maatskappy te optimaliseer.
In 2011 word Opti Feed in Botswana geopen en Derek Foster, NWK se eerste onafhanklike nie-uitvoerende direkteur word aangestel.
In die 2011/12 boekjaar behaal NWK die grootste na-belastingswins tot op datum – R184,8-miljoen.
Die res van die dekade bereik NWK nog vele mylpale insluitend die oorname van landbouchemiese onderneming, Midchem; die stigting van ‘n beginnerboer projek; kragopwekkers en sonpanele word installeer, en Tebogo Modise word as eerste direkteur Transformasie aangestel.
Vernuf, voortvarendheid en durf is die bestanddele wat NWK vir 110 jaar jou dinamiese vennoot in landbou gemaak het. Hier’s op die volgende 110!