Boetiekbier: Wanneer kuns en wetenskap trou

Posted in Latest News

Agri-Pulse - Rustenburg - Daar is ‘n rede hoekom boetiekbier in Suid-Afrika by die dag in gewildheid groei.
Ja, dis makliker en ‘n bietjie goedkoper om by jou naaste drankwinkel in te stap en jou sespak uit die yskas te gaan haal. Maar as jy karakter in jou drank soek, is ‘n goeie boetiekbier - met die klem op goeie - die ware Jakob.

Geleë op die R24 Rustenburg-Johannesburgpad, vind jy Brauhaus am Damm. Hier kry jy elegante eenvoud, gemeng met ‘n tikkie eg-Duitse flair en ‘n groot skoot boere-hartlikheid. Hier, in die skadu van die Magaliesberge toor broumeester Imke Pape met mout, hops, gis en water om ‘n bier te skep wat die karakter van die broumeester weerspieël: eg, sonder pretensie en gul. Imke het sowat 10 jaar gelede haar hart op brouketels verloor toe sy en ‘n groepie vriende en kennisse hul geld saamgegooi het om die Farmers Bräuhaus in Kwa-Zulu Natal te koop.
Terwyl hul besig was om die ketels en ander toerusting af te breek vir vervoer Rustenburg toe, het die statigheid en misterie van die ketels haar betower. “Ek sal baie graag die bier vir Brauhaus am Damm wil doen,”het sy vir haar vennote gesê. Hulle was nie baie entoesiasties oor die voorstel nie, maar omdat daar niemand anders was wat die mantel wou opneem nie, het hulle haar, baie tentatief, die groen lig gegee. Imke het aan die werk gespring om soveel inligting as wat moontlik was oor bier en brouery bymekaar te maak. Sy het deur teksboeke oor die onderwerp wat by Duitse universiteite gebruik word gewerk en alles waarop sy haar oë kon lê oor die geskiedenis en oorsprong van Duitse biere gelees. In haar soeke na kennis het haar pad met dié van ‘n Duitse broumeester, Heiko Feuring, gekruis en hy het haar gehelp om praktiese ondervinding op te doen. So onder sy valkoog het hulle twee saam Brauhaus am Damm se heel eerste bier, Imke’s Dunkel (Imke se Donker), gebrou. “Dié bier het ‘n besonderse plek in my hart en ek brou hom nog steeds. Hy is op die spyskaart hier as ‘Brauhaus Dunkel’.”