Kom ons maak ons grond gesond

Posted in Latest News

AGRIPULSE – NOORDWES - Grondhervorming.  Uiter die woord en dit wek ‘n potpourri van rou emosie.  Hierdie debat, terwyl noodsaaklik, fokus tans net op ‘n enkele dimensie van grondhervorming, naamlik grondeienaarskap.

  Kan ons onsself egter losknoop van hierdie starre werklikheid en vir ‘n oomblik besin oor ‘n baie meer fundamentele en noodsaaklike vorm van grondhervorming?  Ek praat van die hervorming, die opbou en herstel, van ons uitgeputte, selfs uitgemergelde en gedegradeerde landbou-,
myn-, gemeenskaps- en openbare gronde, gronde wat ook munisipale meentgronde insluit.  
Suid-Afrika, soos die meeste lande ter wêreld, gaan gebuk onder grootskaalse omskepping en verandering van wat genoem word natuurlike kapitaal.  Natuurlike kapitaal bestaan uit hernubare natuurlike kapitaal (bv. diere en plante), nie-hernubare natuurlike kapitaal (bv. mynboureserwes), omgewingskapitaal (bv. sonlig, water en grond), en ontwikkelde natuurlike kapitaal (bv. saailande).  
Hierdie kapitaal werk soos die geld in ‘n spaarrekening of belegging.  Die kwaliteit en kwantiteit van die kapitale belegging bepaal die rente-opbrengs wat verdien word.  In die geval van natuurlike kapitaal word die rente-opbrengs “ekosisteem-goedere en -dienste” genoem.  Hoe beter en meer die natuurlike kapitaal, hoe beter en meer die vloei van ekosisteem-goedere en -dienste.  Hierdie goedere en dienste sluit in die produksie van voedsel en kwaliteit water, die regulering van ons klimaat, die kwaliteit van die habitat vir ‘n verskeidenheid van diere, ens.  Ten einde die natuurlike kapitaal volhoubaar te kan benut moet ‘n kombinasie van drie strategieë gevolg word, naamlik die vermindering van die hulpbron- en energie-intensiteit van ons verbruikersgoedere, die verandering van ons gedrags- en verbruikerspatrone en laastens die herstel of restourasie van gedegradeerde natuurlike kapitaal.  Laat ons ‘n bietjie by laasgenoemde stilstaan deur spesifiek na landbou-gerigte gronde te kyk.
Degradasie, of dit van myn-, landbou- of openbare gronde is, het ‘n groot impak op die produktiewe vermoë daarvan, en dus ook op voedselsekuriteit, die welsyn van die bevolking, en die beskikbaarheid van bekostigbare, hoëkwaliteit-kos. Bewarings- of regeneratiewe landbou fokus op die herstel van die grondkwaliteit deur die ekosisteem van die grond te herstel.  Hoe meer aktiewe bakterieë en lewende organismes daar in die grond is, hoe beter die vermoë van die grond om water op te neem en te berg en hoe sterker en beter die kwaliteit van die plant.  Dit veroorsaak dat die plant beter fotosinteer, wat op sy beurt tot die vorming van beter en meer komplekse suikerverbindings in die grond lei.  Voorts verbeter dit die plant se opname van voedingstowwe, en dus daal die boer se insetkostes.    Dit wat die grond gratis doen, hoef die boer nie voor te betaal nie.  Meer nog, as die plant se kwaliteit verbeter, verhoog die voedingswaarde van die opbrengs (die sogenaamde “nutrient density”).  Die teendeel hiervan is dat die organismes wat deur verkeerde boerderymetodes vernietig word, se werk teen hoë koste deur die boer oorgeneem moet word.  
Die grondprofiel moet eintlik as ‘n dam beskou word – of as ‘n beleggingsrekening.  Elke hektaar is ‘n dam van ten minste 20,000m3.  Indien die grondgebruiker sy dam van grond se gesondheid verbeter, soos byvoorbeeld om met behulp van dekgewasse organiese koolstof daarin te deponeer, sal dit positiewe dividende afwerp. Indien die grondprofiel van organiese koolstof en ander voedingstowwe egter gemyn word, word die dam leeggesuig en verlaag sy kapitale waarde en produksievermoë.
In kort dus:  Sorg vir en herstel die grond en die grond sal vir die plant sorg en die plant dan vir mens en dier. Hierdie konsep het veel meer om die lyf as wat mens met die eerste oogopslag mag dink.  Meer as 90% van grond bestaan uit koolstof, waterstof en suurstof.  Net so bestaan die menslike liggaam uit meer as 90% van dieselfde elemente!  Anders gestel, grond bestaan uit lug, water, organiese en anorganiese materiaal. Die menslike liggaam bestaan ook hieruit. Die ooreenkoms tussen die samestelling en funksionering van grond en die fisiologie van die mens is aangrypend, om die minste te sê.  Ons is waarlik, prakties gesproke, stof uit stof.  Dit verg dus geen breinspesialis om te verstaan hoe beter die kwaliteit van die grond, hoe beter die kwaliteit van die voedsel, hoe gesonder die mens nie. Die generasie wat dus vir sy grond sorg, sorg vir sy eie en sy nageslag se gesondheid en toekoms. Die teendeel is egter ook waar.  Uitgehongerde grond, grond wat moeg geploeg en/of oortrek is met letsels deur erosie gelaat, is maar net die vertoonvenster, die fisiese manifestasie, van ‘n baie groter en onderliggende sosiale probleem en lewensingesteldheid.  Dit vertel die verhaal van ‘n gemeenskap wat so vasgevang geraak het in die sorge van die oomblik dat hulle van môre vergeet het – of nog erger, dat môre nie eens meer saak maak nie.  Hulle het “hoop-loos” geraak.
Wanneer ons dus oor grondhervorming besin, moet ons dit baie prakties en met hoop en ‘n vasgewortelde toekomsverwagting doen.  Ons moet nie met ‘n kortsigtige perspektief daarna kyk nie, maar met die langtermyn in die oog.  Die grond self moet hervorm en herstel word.
Kan ons ‘n debat in sake grondrestourasie en gevolglike aksies ontlok wat tot die genesing van die grond en dus van die mens lei?  Kan ons grond wat die letsels van ‘n hartseer verlede dra, van ongeregtigheid getuig en nalatigheid uitbasuin, neem, gemeenskappe mobiliseer, gemeenskappe bestaande uit al die sektore van die samelewing (insluitende mynbou en landbou en ander bedrywe), sowel as gesinne en geloofsgemeenskappe en fokus op dit wat ons almal saambind?  
Die grond, ons liefde daarvoor en die noodsaaklikheid daarvan om dit te herstel.  
Wat help dit as ons grond herverdeel, selfs op die beste en mees optimale manier en die grond self word nie genees nie?  As ons egter saamwerk aan die herstel van die grond, kan ons mekaar vind op ‘n terrein wat vir almal van belang is.  Deur saam te werk aan herstel, kan ons genesing vind.