Herlewingslandbou, die boer en nasionale belang

Posted in Latest News

Restourasie is ‘n proses.  Terwyl daar van tyd tot tyd spesifieke en doelgemaakte ingryping is, bly die restourasie van gedegradeerde gebiede nie ‘n enkele gebeurtenis nie. 

Dit is die produk van deurlopende, aktiewe en doelgerigte bestuur met die oog op herstel en volhoubaarheid.  Die rede is eenvoudig: die impak van dekades se wanbestuur van grond en die daaropvolgende degradasie kan nie in ‘n oogwink omgekeer word nie.  Restourasie is nie die aansit van ‘n ligskakelaar nie.  Dit kan vergelyk word met vertrouensbreuk tussen mense.  Wanneer ‘n verhouding skade gelei het, vat dit lank, baie lank, om te herstel, en soms ook net ten dele.  Die herstel van gedegradeerde ekosisteme is geensins anders nie.  
Die vraag is of die boer, en veral die saaiboer, ‘n bydrae tot restourasie kan lewer.  Is die saailand, dan nie per definisie gedegradeer nie?  Die antwoord lê opgesluit in die definisies en bestek van beide restourasie en ekosisteme.  Indien restourasie en ekosisteme eng gedefinieer word, m.a.w. as slegs die volkome herstel van inheemse plantegroei en dierelewe, is die saaiboer se opsies beperk.  Restourasie is egter ‘n versamelnaam wat ‘n reeks van aktiwiteite wat herstel meebring, en dit op ‘n kontinuum.  Dit begin om deur gedrags- en tegnologiese verandering die druk op die bestaande ekosisteem te verminder.  Hierna volg die verbetering en herstel van die funksionering van die ekosisteem, en dan die instel van prosesse om die natuurlike herstel te bevorder.  Uiteindelik dan ook ekologiese rehabilitasie en restourasie.