Aarbeifees 2019 - Word deel van iets groter

Posted in Latest News

AGRI-PULSE - BRITS - Aarbeie, Aarbeie en roomys, Aarbeie en room, Aarbeikonfyt, Aarbei-smoothies en top gehalte vermaak is so sinoniem met Brits soos sonskyn en Suid-Afrika.

Die NG gemeente Brits bied met trots ons 12de Aarbeifees aan en deur God se genade sien ons uit om soos ouder gewoonte ons gemeenskap met glimlagte, vriendelikheid, liefde en tonne en nogmaals tonne Aarbeie te oorweldig!
Sedert 2008 vier ons fees en die sukses van die Aarbeifees bly elke jaar groei met meer aarbeie, meer stalletjies, meer verskeidenheid en meer kunstenaars! Tydens die eerste jare van die fees was daar een kunstenaar of groep en was die fokus plaaslik. Hierdie jaar tree Lollos, Jay,  Brendan Peyper, Adam en Juanita du Plessis onder andere op. Ons kry kuiergaste van reg oor die land en mense kan nie anders as om aan die lekkerste Aarbeie in die wêreld hiér by óns in Brits te kom smul nie!
Dis so maklik om te kla en te soek na tye wat daar nie meer is nie, daarom maak ons ’n besluit om nie te kla nie, maar om met harde werk, trots en passie ons gemeenskap te dien en te bedien en daarvoor kort ons jou! Kom wees deel van ’n fees waar ons almal saam kuier, saam lag en saam trots kan wees. Ons het so baie om voor dankbaar te wees, daarom wil ons hierdie jaar se fees die grootste en wonderlikste Aarbeifees tot eer van die Here maak. Dis nie net ’n fees waar ons Aarbeie eet en na kunstenaars luister nie, ons het ook die Sondagoggend 09:00 ’n lofsang erediens by die feesterrein waarheen almal hartlik genooi word. Moenie net die fees bywoon nie, kom word deel van iets groter! Vir meer inligting kyk na http://ngbrits.com/aarbeifees/ en gebruik die twitterhandvatsel #Aarbeifees. Feestye Vrydag 30 Augustus 13:00 tot 22:00 en Saterdag 08:00 tot 22:00.