Kerrie: kos vir die siel

Written by Zandre Strauss. Posted in Recipe

AGRI-PULSE – KLERKSDORP - ‘n Goeie kerrie is soveel meer as ‘n gereg. Dit is gemoedskos, vullend, met net genoeg warmte en byt.

JD5 is ‘n huiskombuis/restaurant in Klerksdorp wat smulpape tuis laat voel – asook diegene wat net hou van lekker kos sonder te veel fieterjasies. Die naam is die restaurant se adres – Johannes Duminystraat 5, Roosheuwel, Klerksdorp. Met Bacchus, die Romeinse god van wyn, lekker eet en samesyn, wat teen de muur pryk, weet jy dat jy jou sorge buite moet los en jou oorgee aan die lekkernye waarvoor hy bekend is. Volgens die mede-eienaar en sjef, Bernard Ellis, is hul spyskaart geïnspireer deur gewone en eerlike kookkuns. “Gewoon beteken nie afskeep nie en JD5 spog met ‘n toekenning as beste restaurant deur Restaurant Guru 2021. Ons neem ‘n gereg en gee hom ‘n makeover. Nie te vreemd nie, want mense eet wat hulle ken.”
Ellis en “partner in crime” Lorèn Prinsloo is albei onderwysers met ‘n passie vir kookkuns, lekker eet en mense.
“By JD5 glo ons jy kuier saam met jou vriende – geen wifi, TV en lawaai. Net kuier saam jou besties.” Hy nooi Klerksdorpers en besoekers aan die stad om die restaurant op Facebook te volg en die atmosfeer te geniet en te kom lekker eet.
Klik hier op jou elektroniese toestel of gaan na https://bit.ly/bernardellisbunnychow om na ‘n  video te kyk hoe Bernard kook.

Bunny Chow

Deur Bernard Ellis van JD5

Voorbereiding: 15 minute
Kooktyd: 2-3 ure (hang af van tipe vleis en hoeveelheid)
Porsies: 8 - 10
 
Bestandele:
“Spices”
2 tl Olie
½ teelepel vars gekerfde gemmer
4 Lourierblare
4 Kardemom - gekneus
4 klein naeltjies
2 Kaneelstokkies
4 Ryp tamaties - gesny
2 el Kerriepoeier (gebruik wat jy ken)
3 Chillies na smaak (vars of gedroog)
3 el garam masala
1 tl fyn komein
1 tl Borrie
“Braai-goed”
2 Gekapte uie
2 x Geskilde en Gekapte wortels
“Bunny-goed”
1.8 kg Beeskookvleis
1 liter water
“Bietjie later”
1 tl sout (na smaak)
8 medium aartappels – geskil en in kwarte gesny
4 knoffelhuisies fyn gesny
4 x Kerrieblare (opsioneel)
“Opskep”
4 brode in kwarte gesny

Instruksies
Verhit die olie in ‘n swaarboom kastrol.  Gooi al die bestanddele onder
“Spices” in die warm pot. Roer gereeld. Die smake van die verskillende speserye ontwikkel in die stadium. Doen oor medium hitte vir ongeveer 5-7 minute.
Voorverhit die oond tot 180 grade.
Voeg die “Braai-goed” op die stadium by en meng goed met die speserye. Braai vir  ongeveer 5 minute totdat die uie bruin en deursigtig lyk.  
Voeg nou die vleis by en braai tot bruin (sit die deksel op) – moenie dat dit aanbrand nie. Sit die deksel terug as jy klaar geroer het sodat die vleis en speserye hulle eie vog maak in die pot.
Gooi warm water in die pot todat al die bestandele toe is met die water.
Sit die pot in die oond vir 45 minute. Roer so van tyd tot tyd.  Hou die watervlak dop. Moenie dat dit te droogkook nie. Daar moet ‘n sousie wees om die Bunny nat te maak en jou hande lekker vuil.
Indien dit voel asof die vleis bietjie begin sag word – gooi die “Bietjie later” items by die pot en roer deur.
Plaas terug in die oond vir 45 minute – roer van tyd tot tyd – kyk dat daar genoeg sous is.
Voel of die vleis en aartappels sagter is – indien wel haal die deksel af en druk terug in die oond vir ongeveer 30 – 45 minute totdat die vleis sag is en die sous verdik het. (Gebruik ‘n bietjie meelblom indien jy die sous dikker verkies.
Haal uit die oond en laat so bietjie afkoel.
Hol die kwart brode uit en skep vol van die Kerrie.
Kan bedien word met ‘n salsa.