‘Brandy Snaps’ vir Paasfees

Written by Zandre Strauss. Posted in Recipe

‘Brandy snaps’ is ‘n gewilde peuselhappie of nagereg in die Verenigde Koninkryk, Ierland, Australië en Nieu-Seeland, soortgelyk aan die Italiaanse cannoli.  Hulle is dikwels buisvormige, bros, soet, gebakte omhulsels wat tipies 10 sentimeter lank en 2 sentimeter in deursnee is.

Brandy snaps word gewoonlik bedien gevul met geklopte room. Charlize van der Linden van Stellalander het ‘n besoek gebring aan huis van Peti Pretorius, wat in Vryburg woon, vir ‘n voorsmakie van hierdie gewilde versnapering wat tydens Paasfees geniet kan word. Peti is die eienaar van Thyme and Again sedert 2020 wat spyseniering doen vir funksies soos troues, doopgeleenthede, kombuistee’s, ooievaarstee’s, verjaarsdae en vele meer. Peti spesialiseer nie net in spyseniering nie, maar het ‘n hand vir blommerrangskikkings. Peti is ook die bestuurder van Villa Brocant Gastehuis in Vryburg. Dié ‘Brandy Snaps’ wat Peti die keer vir ons maak is ‘n alkoholvrye weergawe.

‘Brandy Snaps’

Bestanddele:
50g bruinsuiker
50g stroop
50g egte botter
50g koekmeel
½ t gemmer
½ t suurlemoensap

Vulsel:
½ koppie room
1 eetlepel strooisuiker
3 eetlepels caramel kondesmelk

Metode:
Botter, suiker en stroop word eweredig in ‘n pot op die stoof gesit teen ‘n lae hitte vir 15 min totdat die suiker heeltemal oplos. Wanneer dit goed deurgekook het, laat dit bietjie afkoel. Meng die gemmer met die koekmeel en meng dan by die suikermengsel tot glad. Voeg suurlemoensap by. Sit die oond aan op 180° en spuit foelie met ‘spray and cook’ met die blink kant bo in ‘n oondpan, terwyl daar vir die oond gewag word. Skep eetlepel vir eetlepel van mengsel en plaas vêr genoeg op pan uitmekaar sodat dit kan plek hê om te vloei. Plaas oondpan in oond en hou dop tot suiker begin bruin raak en mengsel klein gaaitjies soos kantmateriaal maak. Haal dan uit oond. Laat effens afkoel en draai dan om ‘n houtlepelsteel om ‘n buis te vorm. Indien dit hard word voor dit gerol is, sit weer vining terug in oond om sag te word om te kan rol.  Klits die room van die vulsel styf en voeg strooisuiker bietjie vir bietjie by. Voeg heel laaste caramel kondensmelk by die stygeklopte room. Skep room in ‘n ‘piping bag’ en spuit versigtig in die opgerolde buisvorms. Indien dit onweer buite is, sal die suiker in die deeg nie so ‘crispy’ wees nie. Geniet Brandy Snaps met teetyd of as nagereg. Spesiaal met die komende Paasfees, is dit ‘n smaaklike versnapering.