AGRI-PULSE – NOORDWES - Die Engelse naam vir dié plante - cabbage-tree - verwys na die blou-groen blare van sommige spesies, wat grootliks die kleur van koolblare naboots. In die destydse Kaapkolonie het kiepersolbome onder Afrikaanssprekendes as sambreelbome (sambreel) of nojesbome (nooiensbome) bekend gestaan.
Die assosiasie met ‘n sambreel verwys na die kenmerkende sambreelvorm van jong bome terwyl ouer bome dikwels vertak en die sambreelvorm by elke vertakking stel ‘n groep jong meisies, elk met sy eie sambreel voor – dis nou indien jy ‘n goeie verbeelding het!
Die meer bekende Afrikaanse naam kiepersol, is ‘n interessante verbuiging van die Portugese ‘quita-sol’ (= sonder die son), alhoewel dit meer direk afgelei is van die Indiese ‘kitty-sol’ of ‘kippe solis’ met verwysing na ‘n tipe ligte bamboes- en papiersambreel, die sogenaamde ‘Chinese sambreel’. Die Indiese term wat uiteindelik aan die Kaap vir Cussonia thyrsiflora (Kaapse kuskiepersol) gebruik is weens die sambreelvorm van die blaarkroon, het aanleiding gegee tot die alternatiewe naam vir die plant, naamlik sambreelboom. Die kiepersol was aan die Voortrekkers bekend as die waboom omdat die sagte hout van die boom gebruik is vir remblokke in waens.
Oorspronklik is die hout van die Protea nitida (wageboom / waboom) gebruik as fellies (geboude houtsegmente wat die buitenste rand van die wielvorm (vyf aan die voorkant en sewe aan die agterkant) en vir remblokke. Die gebruik van Protea nitida-hout in waens het egter blykbaar vroeg gestaak, omdat die natuurlike verspreiding van hierdie bome beperk is tot die Kaapse Skiereiland, die Sederberg, Koue Bokkeveld, Worcester, Swartberge, Kamanassie, Kouga en Baviaanskloof-berge. Die grootskaalse vernietiging van Protea nitida-bosse in die 19de eeu was waarskynlik te danke aan die uitstekende houtskool wat uit die hout verkry is. Ander volksname vir die kiepersol is umsenge, umgesiza, umsenge wehlathi (isiZulu) en mosêtsê (Setswana).
Daar is omtrent 43 genera en 1 500 spesies in die Araliaceae-familie van blomplante, wat regoor die wêreld in die tropiese gebiede voorkom. Dit is hoofsaaklik houtagtige plante, struike en soms kruidagtige plante. Kiepersolbome word maklik herken aan hul kenmerkende groeivorm en palmvormige of veervormige saamgestelde blare. Spesies in die Araliaceae-familie het tipies groot, gewoonlik afwisselende blare wat aromatiese olies kan bevat. Die blomstand van al die kiepersolbome is óf sittend óf in baie vertakte pluime wat deur lang blomstele bymekaar gehou word. Almal produseer klein vlesige bessies wat voëls en skoenlappers lok. Die meeste bome het min takke en ontwikkel ‘n dik, kurkagtige stam en bas wat met ouderdom diep gegroef is. Hierdie tekstuur dra by tot die visuele dimensie en veerkragtigheid van die bome, veral in gebiede wat dikwels blootgestel is aan veldbrande.
Cussonia-spesies inheems aan Suid-Afrika verteenwoordig ‘n belangrike groep inheemse bome en struike, bekend vir hul kenmerkende morfologie, ekologiese belangrikheid en kulturele relevansie. Die uitsondering op die reël is Cussonia natalensis (rotskiepersol) met eenvoudige blare. Die bekendste lid van die familie is die gekweekte klimop - Hedera helix. Ginseng is ‘n bekende tradisionele medisyne wat afkomstig is uit die wortels van Panax quinquefolia en P. pseudeoginseng. Die genus Cussonia is ter ere aan Pierre Cusson (1727 -1783), ‘n professor in plantkunde aan die Universiteit van Montpellier in Frankryk.
In Suid-Afrika word drie genera aangetref, naamlik Schefflera (slegs een spesie, maar elders in die wêreld, Madagaskar, Nieu-Seeland en die Verre Ooste kom daar ongeveer 130 spesies voor), Cussonia (12 spesies) en Seemannaralia gerrardii (valsgeelwortelboom). Laasgenoemde is ’n monotipiese spesie wat slegs in Suid-Afrika voorkom.
Cussonia-spesies is beperk tot Afrika en daar is 19 bekende spesies waarvan 12 spesies in Suid-Afrika voorkom. Die plante het oor die algemeen bros takke en ‘n vergrote vlesige ondergrondse knol en wortels. Mens sou verwag dat hierdie plante droogtebestand sou wees, maar ten spyte van die vergrote wortels wat baie water kan stoor, kom die plante nie in die droë dele van die land voor nie. Dit is egter volop in die natter oostelike dele van Suid-Afrika. Die blou-groen of grys-groen kleur van die blare van sommige spesies word veroorsaak deur ‘n wasagtige laag op die blare. Daar is bekend dat die wasagtige lae rypskade voorkom. Die blomme van die plante skei ’n onwelriekende nektar af wat vlieë, wespe en ander insekte lok wat die blomme bestuif.
Opvallende spesies soos Cussonia spicata (kiepersol), C. natalensis (rotskiepersol), C. paniculata subsp. paniculata (karookiepersol), C. paniculata subsp. sinuata (hoëveld-kiepersol), C. transvaalensis (waterbergkiepersol), C. zuluensis (zulukiepersol) en Schefflera umbelifera (valskiepersol) word algemeen in tuine regoor Suid-Afrika as sierplante aangetref.









