AGRI-PULSE – VRYBURG - Die Vrouelandbouvereniging (VLV) van Kaapland se nasionale tema vir 2025/2026, “Van Tuin tot Tafel”, vind sterk aanklank in Vryburg waar die plaaslike tak reeds verskeie inisiatiewe van stapel gestuur het om huishoudings aan te moedig om hul eie voedsel te verbou.
As deel van die projek het die Vryburg VLV meer as 700 aarbeiplantjies aan gemeenskapslede versprei. Die doel is om inwoners aan te moedig om hul eie vrugte, groente en kruie te kweek en sodoende groter voedselsekerheid, gesonder eetgewoontes en omgewingsbewustheid te bevorder.
Volgens die VLV speel tuisverboude produkte ’n belangrike rol in die vermindering van ’n huishouding se koolstofvoetspoor.
Groente en vrugte wat by winkels gekoop word, moet dikwels oor lang afstande vervoer en verkoel word voordat dit die verbruiker bereik. Produkte wat direk uit die tuin geoes word, vereis daarenteen geen vervoer of langtermynberging nie en bied vars, sonryp produkte vir die tafel. Vars groente, vrugte en kruie wat tuis verbou word, bied volgens die organisasie verskeie voedingsvoordele. Omdat die produkte direk geoes en gebruik word, behou dit hul varsheid en voedingswaarde beter as produkte wat vir lang tye gestoor of vervoer word.
Die VLV meen dat tuisverboude voedsel ook kinders aanmoedig om meer vars produkte te eet en ’n groter waardering vir voedselproduksie te ontwikkel. Die organisasie moedig huishoudings aan om organiese afval soos groente- en vrugteskille, eierdoppe, koerantpapier en karton-materiaal te gebruik om kompos te vervaardig.
Nog ’n gewilde metode is die vestiging van ’n wurmplaas, waar erdwurms organiese materiaal afbreek en voedingsryke kompos en vloeibare kunsmis produseer. Hierdie praktyke help om huishoudelike afval te verminder en verbeter terselfdertyd grondgesondheid.
Die VLV beveel aan dat tuiniers waar moontlik natuurlike metodes gebruik om peste en plae te beheer. Afrikanerblommetjies word dikwels tussen groente geplant om sekere insekte af te weer, terwyl verskeie huishoudelike mengsels ook gebruik kan word om plae te beheer sonder die gebruik van chemiese insekdoders. Benewens die voedings- en omgewingsvoordele, wys die organisasie daarop dat tuinmaak ook ’n positiewe invloed op mense se geestelike welstand kan hê. Tuinwerk bied ’n geleentheid om tyd buite deur te bring, stres te verlig en ’n beter begrip van die natuurlike groeiproses te ontwikkel. Vir kinders kan dit ’n waardevolle leerervaring wees om plante te versorg en die ontwikkeling van vrugte en groente eerstehands te beleef. Die VLV beklemtoon dat groot erwe nie ’n vereiste vir voedselverbouing is nie. Groente soos spinasie, blaarslaai en kruie kan suksesvol in potte, houers of selfs herwinde motorbande gekweek word.
Met die “Van Tuin tot Tafel”-tema hoop die VLV om meer huishoudings aan te moedig om klein tuine aan te lê en die voordele van plaaslik verboude voedsel te ervaar – van die tuin tot op die tafel.









