Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Sidebar

14
Tue, May

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

AGRIPULSE – BRITS – Met ‘n weeklikse opbrengs van 228 000 blomstele van 37 verskillende krisantvariëteite, is Jotimaflora op Mamogaleskraal, net buite Brits in Noordwes, ongetwyfeld een van Suid-Afrika se grootste blomplase.
AgriPulse het Jotimaflora besoek en eerstehands die unieke karakter van krisante ervaar. Jotimaflora is in 2005 deur Wim en Mariaan van der End gestig. Die huidige eienaars, Tim en Marolene van der End se passie, toegewyde navorsing en dryfkrag kan in elke krisant op die plaas gesien word.
By Jotimaflora word al die krisantvariëteite heel jaar in ‘n temperatuurbeheerde omgewing in 10 kweekhuise op vyf hektaar gekweek.

Volgens Marolene is navorsing die kern van hul besigheid. “Ons doen uitgebreide proewe om die heel beste snyblomvariëteite te vind, gesog vir hul knoptelling, stamgewig en voortreflike eienskappe,” het Marolene gesê. “Steggies word van die beste telers ter wêreld ingevoer en hier op ons plaas tot volwassenheid gekweek.”
“Ons is ook toegewyd daaraan om te verseker dat ons boerderymetodes ‘n lae koolstofvoetspoor handhaaf. Ons maak van sonkrag vir ons daaglikse bedrywighede gebruik en ons gebruik meer volhoubare maniere om insekte te beheer. Ons strewe daarna om aan te hou soek na maniere om ons besigheid te bestuur op ‘n manier wat die planeet kan bevoordeel,” het sy gesê.
Sy sê ook dat hulle tans besig is met ‘n projek waar hulle hul eie steggies van hul eie moederplante kweek – nog ‘n innoverende manier om hul koolstofvoetspoor te verklein.
Krisante met hul reënboogkleure simboliseer geluk, vreugde en optimisme en het ‘n geskiedenis wat net so kleurvol soos die blomme self is.
Volgens die National Chrysanthemum Society, is die blomme eeue gelede in Sjina, hoofsaaklik as kulinêre kruie gekweek. As kruie is geglo dat dit die krag van lewe het. Volgens legende is die gekookte wortels as ‘n hoofpynmiddel gebruik, jong spruite en blomblare is in slaaie geëet en blare is gebrou vir ‘n feesdrankie.
Rondom die 8ste eeu n.C. het krisante in Japan verskyn. Die Japannese was so beïndruk met die blom dat hulle ‘n enkelblom krisant as die helmteken en amptelike seël van die Keiser aangeneem het. Japan het ook ‘n Nasionale Krisantedag, wat die Fees van Geluk genoem word.
Daar is vandag soveel variëteite van krisante dat ‘n klassifikasiestelsel gebruik word om hulle te identifiseer. Die klassifikasie is gebaseer op die tipe blomme en hul groeipatroon.
Vir meer inligting oor Jotimaflora besoek hul webwerf by www.jotimaflora.co.za