AGRI-PULSE – LICHTENBURG - Deesdae beteken die woord “boervrou” nie meer net iemand wat aan die sy van ’n boer staan nie. Boervroue is vennote, ondersteuners, bestuurders, ma’s, bemarkers, boekhouers en dikwels self ook boere.
Een só ’n vooraanstaande boervrou is Bianca Pretorius. “Van my vroegste herinneringe is saam met my pa in die kraal,” vertel sy. “My pa het altyd gespot en gesê ek is sy seun ‘Jan’ wanneer daar gewerk moes word, en my ‘ma se Bianca’ wanneer ek weer ’n dogtertjie was. Hy het my van kleins af ingespan om te help waar ek kon.
Die plaas en die kraal was nie net ’n speelplek nie, maar die klaskamer waar haar lewenspad gevorm is.
Ná skool het Bianca haar BCom-graad in bedryfsielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Daarna het sy by ’n landboumaatskappy opleiding en ontwikkeling behartig, voordat sy haar pad na ProAgri gevind en die rol van redakteur volgestaan het. Hierdie ervarings het haar in staat gestel om haar passie vir landbou, kommunikasie en bemarking perfek te kombineer.
Vir Bianca is ’n moderne boervrou ’n volwaardige vennoot wat saam om die tafel sit wanneer belangrike besluite geneem word; sy glo boervroue dra aktief by tot die groei en sukses van die onderneming solank jy ’n passie en liefde vir landbou het. Vroue het soms ‘n sagter oog, en bring dikwels ’n besondere vermoë om met empatie en geduld te lei, asook ’n fyner oog vir detail met dieresorg, rekordhouding en bemarking.
Vir jong vroue wat die bedryf wil betree, gee sy die volgende raad: “Moenie bang wees om klein te begin nie. Wees nuuskierig, vra vrae en omring jouself met mense wat jou inspireer. Moet nooit dat moeilike oomblikke jou drome steel nie, bly getrou aan jouself en doen alles met integriteit. Elke moeilike seisoen leer jou iets en maak jou sterker. Deur hard te werk, nederig te bly en nooit op te hou leer nie, sal jy hierdie moeilike tye kan oorkom.”
Wanneer sy die toekoms van vroue in Suid-Afrikaanse landbou in drie woorde moet opsom, kies sy veerkragtig (omdat vroue uitdagings met moed aanpak), vernuwend (omdat vroue nuwe idees en tegnologie na die bedryf bring) en onstuitbaar (omdat die rol van vroue in landbou net gaan aanhou groei).
As die son laatmiddag oor die veld sak en die jong lammers vol lewe deur die kampies bons, weet sy waar haar hart lê: in die grond, die diere en die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou.









