AGRI-PULSE – RUSTENBURG - Min bome is so kenmerkend deel van die Suid-Afrikaanse landskap soos die soetdoring (Vachellia karroo). Waar hierdie tipiese Afrika-savannaboom in gebiede met ’n hoë reënval voorkom word dit dikwels saam met rooigras (Themeda triandra) aangetref.
Dit is besonder aanpasbaar en word aangetref in die droë Karoo tot die grasvelde van die Vrystaat, die bosveld, KwaZulu-Natal en selfs in kusgebiede is dié bekende boom tuis. Met sy kenmerkende wit dorings, geel blomme en geharde aard is dit ’n ware staatmaker van die Suider-Afrikaanse landskap.
Die spesienaam karroo verwys juis na die Karoo, waar die boom een van die opvallendste boomspesies in hierdie dorre landskap is. Die spesie toon heelwat geografiese variasie en bome uit verskillende dele van die land kan daarom soms merkbaar van mekaar verskil.
’n Pionier wat kan vasbyt
Die soetdoring is ’n bekende pionierspesie met ’n lewensduur van ongeveer 30 tot 40 jaar. Dit is een van ons inheemse doringbome wat koue besonder goed kan weerstaan en is ewe tuis in halfskaduwee en volson.
Selfs veldbrande kry dié geharde boom nie maklik onder nie. Wanneer saailinge ouer as ongeveer ’n jaar is, kan hulle ná ’n brand weer uitloop.
Onder die grond skuil een van die geheime van die boom se sukses. Sy lang penwortel stel hom in staat om water en voedingstowwe diep uit die grond te benut. In droë gebiede kan die teenwoordigheid van soetdorings gevolglik ’n aanduiding van ondergrondse water wees.
Die boom se vermoë om stikstof te bind, bevoordeel ook die plante rondom hom. Grasse en ander plante groei dikwels besonder goed onder en rondom ’n soetdoring.
’n Fees vir bye en ander diere
Wanneer ’n soetdoring in blom staan, is dit nie net vir mense ’n pragtige gesig nie. Die geel blomme produseer groot hoeveelhede stuifmeel en nektar en maak die soetdoring ’n uitstekende “byeboom”.
Dit is ook ’n waardevolle voerboom. Die sekel-vormige peule kan in groot hoeveelhede aan die boom voorkom. Jong peule is groen en haarloos en word donkerbruin wanneer hulle ryp word. Elke peul kan tot 12 olyfgroen sade bevat.
Nie al die sade oorleef egter nie. Kewers van die genus Bruchus voed op die sade en is een van die boom se natuurlike vyande.
Die soetdoring speel ook ’n rol in die lewensiklus van skoenlappers. Dit dien onder meer as gasheerplant vir die larwes van die wit- en bruindubbelstert (Charaxes zoolina zoolina) en die donkerkortstertjie (Anthene definita definita).
’n Boom wat sy plek verdien
In Namibië staan die boom ook as die wittedoring bekend, ’n verwysing na sy opvallende wit dorings. In Suid-Afrika geniet die spesie beskermde status in die Noord-Kaap en in die Jacobsdal-distrik van die Vrystaat.
Die soetdoring is egter veel meer as net nog ’n bekende doringboom. Dit bied voedsel aan insekte en ander diere, verbeter die omgewing waarin ander plante groei, kan moeilike toestande en veldbrande oorleef en het deur die jare ook talle gebruike vir mense gehad.
Wanneer jy dus volgende keer onder die geel blomme en wit dorings van ’n Vachellia karroo deurstap, kyk met nuwe oë en ervaar een van die ware staatmakers van die Suider-Afrikaanse veld.









